Mike Nieuwoudt
From Let's Talk Network Wiki
Biografie
Ek is in 1957 op Graafwater in die Sandveld van die Weskaap gebore, my ouers was beide onderwysers. Op 13 trek ons Karoo toe, en ek matrikuleer in 1974 by Middelburg Kaap. Twee jaar diensplig in die lugmag gedoen, en toe op Stellenbosch meganiese ingenieurswese geswot.
Werk twee jaar by Evkom (nou Eskom) Weskaap streek, hoofsaaklik by Koeberg kernkragsentrale gedurende konstruksie. Kom toe op boontoe en begin werk in die wapenindustrie (gevegstenks en groot kanonne). Gaan gee bietjie klas by Tukkies in 1988 en begin ontwerp besigheid saam met Prof. Fourie en ander. Teqnovo bestaan nog steeds, maar ek is vroeg 1998 daar weg, werk toe sommer van die huis af vir ‘n paar jaar. Sluit in 2001 by IST Nuclear aan op die pebble bed projek, ons word in 2007 deur Westinghouse van die VSA oorgekoop, en in 2009 loop die pebble bed dood. Nou doen ons basies “jobbing” vir ons moeder-en sustermaatskappye in verskeie oorsese lande.
Ek was lank ‘n alleenloper, met die paar rampspoedige verhoudings wat maar deel is daarvan. In 1993 ontmoet ek my trouvrou Margaret, ons is in 1994 getroud, en in 1996 arriveer Nicole, ons enigste. Ons woon in Nieu Muckleneuk, naby die voëlpark.
Behalwe werk hou ek my besig met krap (ek kan goed DIY doen, ook goeters ordentlik opf*k van tyd tot tyd), ek het ‘n ou Land Rover wat ek self aan werk, en ons gaan gewoonlik so een keer ‘n jaar iewers kamp, alleen of saam met vriende en/of familie. Hierdie winter gaan ons bietjie Gonarezhou in Zimbabwe verken saam met familie. Verder lees ek redelik baie, meestal nie-fiksie oor onderwerpe wat my tickle. En ek spandeer hopeloos te veel tyd op die rusbank voor die TV (ek bly op hoogte met Binnelanders EN 7de Laan J). En lately het ek begin kook. Sommer maklike een-pot disse, verkieslik die wat lekker mondbrand is. Sondagaande het nou by ons “kom-ons-probeer-iets-nuut-kook” aande geword. Dit help vir daai Sondagaand blues, maar ek dink van ons genooide vriende staan Maandag soms met sooibrand op.
Kontakbesonderhede
Ek is op Facebook, maar nie baie aktief nie, en my e-pos is mnnieu@gmail.com. Twitter, Skype, Mxit en sulke goed is vir my volksvreemd.

